AARBEI NOGA SJOKOLADEKOEK
AARBEI NOGA SJOKOLADEKOEK
Dié koek kry 'n tussenlaag van aarbei-noga en word afgerond met 'n sjokolade-bolaag.
  SJOKOLADEKOEK
  4 groot eiers, geskei
  175 ml louwarm water
  375 ml suiker
  175 ml kakao
  80 ml kookwater
  150 ml kookolie
  5 ml vanieljegeursel
  500 ml koekmeel
  15 ml bakpoeier
  2,5 ml sout
METODE:
    Berei twee veerklamp-koekpanne - sowat 25 cm in deursnee - voor. Stel oond op 180C.
  Klits eiergele en louwarm water tot sponsig.
  Voeg suiker geleidelik by. 
  Maak kakao met die kookwater aan tot 'n gladde pasta. 
  Vou die kakao in die eiermengsel.
  Voeg olie en geursel by en vou in tot olie deeglik gemeng is.
  Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam en vou bietjies-gewys in die eiermengsel in.
  Klits eierwitte tot styf en vou laastens in. 
  Verdeel mengsel in die twee panne en bak 20 tot 25 minute tot gaar.
AARBEI-NOGA VULSEL 
  125 g margarien
  125 ml strooisuiker
  12,5 ml gelatien
  75 ml koue water
  1 blikkie (397 g) kondensmelk
  5 ml kremetart
  250 g vars aarbeie - gebruik slegs twee derdes daarvan, grof gekap (res is vir versiering bo-op koek)
  2 stukke groenvyekonfyt, grof gekap
  125 ml pekanneute, grof gekap
  60 ml aarbeistroop (opsioneel)
METODE:
    Room margarien en strooisuiker saam tot lig en donsig. 
  Week gelatien in koue water, laat oplos deur dit vir 10 sekondes in die mikrogolf te plaas.
  Voeg by margarienmengsel.
  Voeg kondensmelk baie stadig by terwyl jy aanhoudend klits. 
  Voeg kremetart en aarbeistroop by. 
  Vou vrugte in die mengsel in en laat effe styf word in yskas.
  Plaas 'n strook waspapier teen die binnerand en op die boom van die veerklamppan. 
  Plaas een koeklaag terug in die pan, skep die noga-vulsel bo-op en versprei dit egalig oor koek. 
  Plaas die tweede laag koek bo-op en plaas terug in yskas om te stol.
SJOKOLADE BOLAAG 
  200 g sjokolade
  100 g botter
  125 ml room
METODE:
     Plaas al die bestanddele in 'n glasmaatbeker en verhit in die  
mikrogolf op middelmatige hitte vir drie tot vyf minute tot sjokolade  
begin smelt.
  Klop mengsel met draadklopper tot dik, maar steeds loperig - die mengsel behoort nou afgekoel te wees.
  Giet versigtig en stadig van binne na buite in 'n spiraal oor die koek totdat die sjokolade teen die kante begin afloop.
  Versier met res van aarbeie
 
 
 
 
          
      
 
  
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking