Dinsdag 02 September 2014

Fudge-chelseakoek

Genoeg vir 1 groot koek
1 x 10 g-sakkie kitsgis
1 eier
115 g (125 ml) botter, in blokkies gesny
280 g (500 ml) koekmeel
1 x 650 g-boks sjokoladekoekmengsel
250 ml louwarm melk (dis belangrik dat die melk nie kokend warm is nie, anders gaan dit die gis doodmaak)
50 g (60 ml) bruinsuiker
100 g gemengde neute, fyngekap
100 g fudge, fyngebreek plus ekstra vir oorstrooi
125 ml versiersuiker, gesif
sap en skil van 1 suurlemoen
50 ml water
Plaas gis, eier, botter, meel en koekmengsel in bak van elektriese menger met ’n K-spaan. Skakel menger aan en voeg melk geleidelik by tot stywe kniebare deeg vorm. Verhoog spoed en knie 5 – 8 minute of tot gladde deeg. Plaas in bak wat met olie gesmeer is.
Maak toe met kleefplastiek en laat rys op warm plek tot dubbel in volume, sowat 90 minute. (Dit neem langer om te rys as brood omdat daar suiker in die deeg is, wat die gis stadiger
laat groei.) Verhit oond tot 180 °C. Sprinkel koekmeel op werkvlak en rol deeg tot sowat 3 mm dik uit. Sprinkel suiker, neute en fudge oor. Rol deeg op in stywe wors. Sny wors in stukke van 5 cm. Spuit ’n 25 cm-losboomkoekpan goed met kleefwerende kossproei. Pak deegstukke met spiraalvorm wat na bo wys in pan. Laat rys weer op warm plek tot dubbel in volume, sowat 30 minute. Plaas in oond en bak vir 50 – 60 minute of tot goudbruin en bros. Laat afkoel en verwyder uit pan. Meng versiersuiker en suurlemoen en voeg water druppelgewys by tot gladde mengsel vorm. Skep oor brood en sprinkel ekstra fudge oor. Sit voor.
Foto's deur Donna Lewis

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking