Dinsdag 02 September 2014

Onderstebo-piesangkoek


Genoeg vir 8 – 10
Vir die piesangkaramel
• 300 g (360 ml) strooisuiker
• 4 – 5 ryp piesangs
• ¼ teelepel (1,25 ml) fyn kaneel
Koekbeslag
• 140 g (150 ml) sagte, ongesoute botter, plus ekstra om pan te smeer
• 180 g (320 ml) koekmeel
• 1½ teelepel (7,5 ml) bakpoeier
• 1 teelepel (5 ml) fyn kaneel
• 4 eiers, geskei
• 140 g (165 ml) strooisuiker
• 2 groot ryp piesangs, afgeskil en fyngedruk
Verhit oond tot 170 °C. Smeer boom en kante van losboompan met deursnee van 23 cm deeglik met ekstra botter en voer uit met bakpapier. piesangkaramel Plaas suiker en 150 ml water in swaarboom-pan en kook tot suiker smelt. Laat kook tot dit ’n dik goudbruin karamel vorm, maar pasop dat dit nie brand nie. Verwyder van hitte en gooi onmiddellik in gesmeerde koekpan. Kantel die pan sodat die karamel eweredig oor die bodem versprei word. Skil piesangs en halveer in die lengte. Rangskik op karamel in ’n mooi patroon, sny korter indien nodig en sprinkel kaneel bo-oor. koek Sif die meel, bakpoeier en kaneel saam in ’n bak. Klits die eierwitte in ’n aparte skoon bak styf tot dit punte vorm. Gooi botter en suiker in nog ’n groot bak en klop tot lig en donsig. Klits die eiergele stadig en een vir een bybottermengsel. Vou fyn piesangs in, gevolg deur droë bestanddele. Vou eierwitte heel
laaste in. Skep beslag in koekpan bo-op karamelbasis en versprei eweredig. Bak 50 – 60 minute, of toets met pen of dit gaar is. Verwyder uit oond en laat paar minute afkoel voordat uit pan verwyder word. (Dis makliker om uit die pan te haal as dit nog warm is, want die karamelbasis word hard.) Trek met ’n dun mes al om die binnekant van die koekpan. Plaas ’n groot plat bord bo-op die pan, hou albei styf vas en keer om. Verwyder pan versigtig, asook die bakpapier. Sit warm voor.

Cabana Boekuittreksel Resep

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking