Woensdag 20 Mei 2015

FUDGE - OUMA SE SOETGOED

FUDGE - OUMA SE SOETGOED
Maak:
16-24 blokkies
Bereidingstyd:
omtrent 30 minute, plus afkoeltyd
800 g (940 ml) suiker
300 ml melk
35 ml gouestroop
40 ml vloeibare glukose (of gebruik gouestroop)
1 blik kondensmelk
50 g (55 ml) botter
5 ml vanieljegeursel
METODE:
Meng die suiker, melk en ’n knypie sout in ’n kastrol en roer dit oor lae hitte tot die suiker opgelos het. Verf die suikerkristalle wat teen die kant van die kastrol vorm, af met ’n kwas wat in water gedoop is.
Voeg die orige bestanddele (behalwe die vanieljegeursel) by en verhit dit weer tot kookpunt.
Verlaag die hitte en laat die mengsel liggies prut (roer af en toe) tot dit sagtebalstadium (112- 115 °C) bereik.
Toets of dit reg is deur ’n druppel van die mengsel in koue water te laat val – dit moet ’n sagte bolletjie vorm.
Haal die kastrol van die plaat af en laat die mengsel afkoel tot dit louwarm (50 °C) is.
Voeg die vanieljegeursel by en klop die mengsel met ’n houtlepel tot dit dik en romerig word.
Gooi die mengsel dadelik in ’n gesmeerde 20 cm-broodpan en laat dit eenkant staan om heeltemal af te koel.
Sny dit in vierkante met ’n warm mes en bêre dit in ’n lugdigte houer.
WENKE VIR PERFEKTE LEKKERGOED
Party soorte lekkergoed is ’n uitdaging om te maak, maar jou kans op sukses is veel groter as jy ’n suikertermometer het om die temperatuur akkuraat te meet.
Volg altyd die resep en meet die bestanddele akkuraat af. Moenie enige van die bestanddele uitlaat of met iets anders vervang nie.
Wees baie versigtig wanneer jy met suikerstroop werk. Dit is vuurwarm en kan ernstige brandwonde veroorsaak.
Moenie lekkergoed op ’n baie bedompige dag maak nie. As daar te veel vog in die lug is, sal die lekkers nie behoorlik stol nie.
Lekkergoed moet altyd in ’n lugdigte houer bewaar word.
Laai die tabel met al die fases van die suikerkookproses af.
 Picture

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking