Woensdag 20 Mei 2015

TWEE SOORTE FUDGE

KONFETTI FUDGE
Maak: sowat 56 blokkies
Bereidingstyd: 45 minute
875 ml (740 g) suiker
125 g botter
1 blik kondensmelk
30 ml gouestroop
10 ml vanieljegeursel
silwer of pastelkleur koek-konfetti of gekleurde suikerkristalle
METODE:
Verhit die suiker en 250 ml water in ’n swaarboomkastrol oor lae hitte tot die suiker gesmelt het.
Voeg die botter, kondensmelk en gouestroop by. Verhit dit tot kookpunt en verlaag dan die hitte.
Laat die mengsel vir sowat 10 minute prut, en roer af en toe sodat dit nie aanbrand nie.
Laat dit dan vir nog 10 minute prut, maar roer die heeltyd tot die temperatuur 112 ˚C op ’n suikertermometer meet of tot dit die sagtebalstadium bereik (as jy ’n bietjie van die mengsel in yskoue water drup, vorm dit ’n sagte balletjie).
Haal dit van die plaat af en roer die vanieljegeursel by. Klop met ’n houtlepel tot dit begin verdik.
Gooi die fudge-mengsel in ’n gesmeerde en gevoerde vierkantige koekpan van 24 cm. Sprinkel pastelkleur konfetti of gekleurde suikerkristalle bo-oor en druk dit liggies vas. Laat stol en sny in 3 cm-blokkies.


PictureRUM & ROSYNTJIE SJOKOLADE FUDGE
Maak: sowat 40 stafies
Bereidingstyd: 40 minute
1 kg suiker
360 ml ingedampte melk
120 g donkersjokolade
10 ml gouestroop
60 ml (55 g) botter
5 ml rum-geursel
155 ml (120 g) rosyntjies
METODE:
Smeer en voer ’n vierkantige koekpan van 20 cm.
Verhit die suiker, ingedampte melk, sjokolade en stroop saam in ’n kastrol oor lae hitte.
Roer af en toe. Sodra die suiker gesmelt het, laat die mengsel prut vir 15 tot 20 minute of tot sagtebalstadium.
Roer elke paar minute liggies om te keer dat dit aanbrand.
Haal van die plaat af, roer die botter in en laat vir 10 minute staan.
Voeg die rum-geursel en rosyntjies by en roer vinnig tot die mengsel sy glans verloor en fudge begin word.
Gooi in die voorbereide pan en laat staan tot ferm. Sny dit in stafies van 2 x 5 cm.
GESKENK IDEES Spuit gom oor ’n platgevoude of ongevoude boksie en trek dit oor met geskenkpapier. Sny die kante netjies met jou handwerkmessie. Sny ook ’n venstertjie uit die boksie se deksel. Gebruik alkant-plakband en plak ’n stukkie asetaat aan die binnekant van die venstertjie om dit te bedek. Vou die boksie.
Sit die fudge in ’n sellofaansakkie en seël met ’n plakker. Pak dit in die boksie, maak toe en versier met ’n lint.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking