Maandag 02 Februarie 2015


HEMELSE SJOKOLADE KOEK 

Picture
Charmain vertel: “My liefdesverhouding met dié koek is só warm dat dit nooit sal afkoel nie! Dit moet klam en ryk wees. Wanneer jy dit opsny, doen jy dit in dun skyfies, want ’n mens moet dit bietjies-bietjies proe.
CHARMAINE SE HEMELS SJOKOLADE KOEK 
200 g donker sjokolade, in blokkies gebreek
200 g botter, in blokkies gesny
5 ml kitskoffiepoeier
125 ml water
160 ml bruismeel
160 ml koekmeel
1 ml koeksoda
250 ml muscovado-bruinsuiker
200 ml strooisuiker
60 ml kakao
3 eiers
75 ml karringmelk
GANACHE:
250 g donker sjokolade, in klein stukkies gekap
250 ml room
METODE:
Voorverhit die oond tot 160 °C. Smeer twee ronde koekpanne van 20cmen voer die bome met bakpapier uit. Plaas die sjokolade, botter, koffiepoeier en water in ’n swaarboomkastrol en verhit oor lae hitte. Roer net tot die sjokolade gesmelt is. Verwyder van hitte.
Sif die bruismeel, koekmeel, koeksoda, bruinsuiker, strooisuiker en kakao saam in ’n groot mengbak. Klits die eiers en karringmelk in ’n aparte bak. Giet die sjokolademengsel en die eiermengsel by die meelmengsel en roer tot alles net goed gemeng is.
Giet die beslag in die voorbereide panne en bak vir een uur tot gaar. (Die kors van die koek mag effens bars.) Laat in die pan afkoel en keer dan uit op ’n draadrak om heeltemal af te koel.
GANACHE: Sit die gekapte sjokolade in ’n mengbak. Verhit die room in ’n kastrol tot net onder kookpunt.
Giet dit oor die sjokolade en roer tot die sjokolade gesmelt het en die mengsel glad is.
Laat staan tot effens styf,maar nog vloeibaar.
Roer af en toe.
Smeer ’n bietjie van die ganache op een van die koeklae en plaas die lae op mekaar.
Giet die res daarvan oor die koek sodat dit teen die kante afloop. Versier die koek met sjokoladekrulle.
Bron: ARINA DU PLESSIS
Plasing: Joey Kruger / WATERTAND RESEPTE VIR OUD EN JONK 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking