Maandag 02 Februarie 2015


SJOKOLADE KOEKLOLLIES (VAN OORSKIET KOEK)

Picture
250 g (2 k) oorskiet- of gekoopte vanielje- of sjokoladekoek
(of 5 - 7 vanielje- of sjokoladekolwyntjies of -muffins)
60 ml (¼ k) room
240 g (1¾ k) gekapte wit-, melk- of donkersjokolade
METODE
1) Kry jou bestanddele gereed.
2) Verkrummel die sjokoladekoek of muffins in ’n bak of plaas in ’n voedselverwerker en verwerk tot fyn krummels.
3) Verhit die gekapte sjokolade en room saam in ’n bak in ’n mikrogolfoond teen 20% krag of op die ontdooistelling. Roer na elke minuut tot die mengsel gesmelt en glad is.
4) Roer die koek- of muffinkrummels in die sjokolademengsel terwyl dit nog warm is.
5) Druk die mengsel met ’n spaan plat.
6) Sit die bak 30 minute in die yskas vir die mengsel om styf te word.
7) Haal die mengsel uit die yskas en gebruik ’n spanspekballetjie-snyer of teelepel om ewe groot koekballetjies te skep. As die koekmengsel aan die balletjiesnyer of lepel kleef, doop dit in kookwater voor jy die mengsel uitskep.
Rol balletjies van die mengsel of maak verskillende vorms, byvoorbeeld vierkante, reghoeke, harte, keëls of silinders.
9) Plaas die balletjies of vorms op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is en sit dit 15 minute in die yskas om effens af te koel.
10) Versier die koekballetjies en druk suiglekkerstokkies daarin.
Wenke:
Hierdie koeklolliemengsel kan in ’n lugdigte houer tot vyf dae teen kamertemperatuur of sewe dae in die yskas gebêre word.
Vir wit koeklollies, gebruik vanieljekoekkrummels en gekapte witsjokolade en vir donkersjokolade-koeklollies gebruik sjokoladekoekkrummels met gekapte donkersjokolade.
Die hele mengsel of die gerolde balletjies kan tot drie maande gevries word. Ontdooi die mengsel of balletjies oornag in die yskas voordat jy hulle versier.
Om tradisionele koeklollies te maak, meng 375 g (3 k) koekkrummels met 90 g (½ k) botterversiersel totdat jy ’n stywe mengsel verkry. As die mengsel te sag is, voeg nog koekkrummels by. As dit te styf voel, vermeerder die botterversiersel.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking