Maandag 02 Februarie 2015


PLAATKOEK MET MERINGUE EN SJOKOLADE VERSIERING

Picture
PLAATKOEK MET MERINGUE EN SJOKOLADE VERSIERING
BASIESE SJOKOLADEKOEK

Maak: 1 x 20 cm-koek
Bereidingstyd: 45 minute
Baktyd: 30-35 minute
Oondtemperatuur: 180˚C
550 ml (300 g) koekmeel
5 ml koeksoda
125 g (135 ml) botter
400 g (470 ml) suiker
125 ml olie
50 g (155 ml) kakaopoeier
2 ekstra-groot eiers
125 ml karringmelk
METODE:
Sif die meel, koeksoda en ’n knippie sout saam.
Gooi die botter, suiker, olie en kakao in ’n kastrol met 250 ml water en verhit dit tot kookpunt. Roer goed.
Haal dit van die plaat af en laat dit effens afkoel. Vou die meelmengsel liggies in.
Klits die eiers en karringmelk saam. Voeg dit by die meelmengsel en vou dit liggies in.
Gooi die beslag in ’n 20 cmkoekpan wat gevoer en gesmeer is en bak dit vir 30-35 minute in die verhitte oond of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat die koek heeltemal afkoel. Versier dit met Italiaanse meringueversiersel of sjokoladeversiersel.
ITALIAANSE MERINGUE VERSIERSEL:Los 300 g (350 ml) witsuiker in 175 ml water op. Verhit dit tot kookpunt, verlaag die hitte en laat dit prut tot dit die sagtebalstadium (112-116˚C op ’n suikertermometer) bereik. Verf die kante van die kastrol met water om te keer dat kristalle vorm. Terwyl die suikerstroop kook, klits 4 groot eierwitte (teen kamertemperatuur) en 1 ml kremetart tot dit stywe punte vorm. Wanneer die stroop reg is, sit die kastrol vir 5 sekondes in ’n wasbak vol koue water om die kookproses stop te sit. Gooi die stroop in ’n dun straaltjie by die eierwitmengsel terwyl jy die heeltyd klits tot jy al die
stroop bygevoeg het. Hou aan met klits tot die mengsel afgekoel het (omtrent 8 minute). Skep die versiersel in ’n spuitsak en versier die kolwyntjies daarmee, of smeer dit oor die plaatkoek.
SJOKOLADE VERSIERSEL (VIR PATROONTJIES)Smelt 75 g (80 ml) botter. Roer 30 ml kakaopoeier by. Voeg 45 ml karringmelk en 5 ml vanieljegeursel by.
Roer laastens 200 g (385 ml) gesifte versiersuiker by.
Maak: 1 vierkantige 24 cm-koek, of ’n 30 x 25 cm-koek
Bereidingstyd: omtrent 2 uur, plus stoltyd
Baktyd: 30 minute
Oondtemperatuur: 180˚C

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking