Maandag 02 Februarie 2015


SARIE SE SJOKOLADEKOEK EN VERSIER WENKE

Picture
SARIE SE SJOKOLADEKOEK EN VERSIER WENKE
’n Goeie sjokoladekoek, sê die meesterbakker Sarie Horn, moet ’n fyn tekstuur hê en klam wees. “Resepte wat olie vereis, lewer gewoonlik ’n klam koek. Dit is ook belangrik om die beslag deeglik te meng. As ’n mens die eierwitte afsonderlik klop en invou, sorg dit vir ’n fyn tekstuur.”
JY HET NODIG:
VIR DIE KOEK"

5 groot eiers (geskei)
250 ml meel
70 ml kakao
200 ml strooisuiker
’n knippie sout
15 ml bakpoeier
125 ml olie
125 ml water
5 ml vanieljegeursel
VIR DIE VERSIERSEL:
1 k sagte botter
2 e kakao
1 k strooisuiker
1 blikkie kondensmelk
SO MAAK 'N MENS:
Klop die eierwitte totdat dit stywe punte vorm en sit eenkant.
Sif die meel, kakao, strooisuiker, sout en bakpoeier saam in ’n groot mengbak.
Klits die olie, water en vanieljegeursel saam.
Voeg die oliemengsel by die droë bestanddele en meng goed.
Voeg die eiergele by die beslag en klop deeglik.
Vou die eierwitte liggies maar deeglik in.
Giet die beslag in ronde koekpanne wat deeglik gesmeer is en bak 25 minute lank teen 180 °C.
Laat afkoel in die panne en keer dan uit op ’n draadrak om behoorlik af te koel.
MAAK DIE VULSEL:
Room die botter en voeg dan die kakao en die strooisuiker by. Klop baie deeglik totdat dit goed gemeng is.
Giet die kondensmelk baie stadig in ’n dun stroom by die bottermengsel terwyl jy dit klits.
Dit moet ’n smeerbare versiersel wees. Hou dit dop, dit sal miskien nie nodig wees om die hele blikkie by te voeg nie (dan word dit dalk te loperig). Dit maak ’n groot hoeveelheid. As daar oorbly, kan jy dit vries en met groot sukses weer later gebruik.
SJOKOLADE GANACHE : Dié is basies ’n mengsel van gesmelte sjokolade en room wat goed werk as vulsel vir ’n sjokoladekoek of om ’n laagkoek aan die buitekant mee te versier. Gebruik twee dele sjokolade (gewoonlik semisoet of bittersoet sjokolade) en een deel room wanneer jy ganache maak. Giet warm room oor die sjokolade en roer tot gesmelt.
’n Mens kan ganache warm gebruik en dit oor ’n koek gooi sodat dit ’n glaseersel is wat dekadent oor die kante loop. Wanneer ganache afkoel verdik dit en dan kan ’n mens dit vir ’n paar minute met ’n elektriese klitser klits sodat dit die tekstuur van sjokolade-mousse kry.
Dié mousse is ’n heerlike vulsel vir ’n sjokolade-laagkoek.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking